Jan M Pmb City Hall

Oom Jan Mastenbroek

Pietermaritzburg

Inleiding

Die webblad is bedoel om kontak te bou met Afrikaners en kultuurgenote wat die bedreiging besef waar die ondergang van SA ook Afrikaners tot ondergang sal meesleur.
Om dit te voorkom is Onafhanklikheid en Soewereiniteit oor eie Gebied die enigste oplossing.

Die tyd het aangebreek om so'n gebied in Suid Afrika af te baken, waar ons politieke beheer oor ons eie mense kan uitoefen en daarmee ons Westerse sosiale, kulturele en ekonomiese strewes vryelik kan beskerm en uitleef, terwyl die Spelreëls van die SA-Grondwet en veral Internasionale Regsbeginsels en -vereistes deeglik in ag geneem sal moet word.

Die bladsye wat u gereëld sien, verwys na die oorspronklike inskrywing uit die boek " 'n Heimat vir Afrikaners: Die Tiende Provinsie", deur mnr Cor Ehlers, voorsitter van OASE (Onafhanklike Afrikaner-Selfbeskikking-Ekspedisie), vooraanstaande Afrikaner-navorser en spesialis vir Afrikaner-Selfbeskikking.
Dit is aan sy volgehoue ondersteuning waaraan ek my verworwe insig en kennis oor Afrikanerselfbeskikking te danke het.

"Met dank aan Cor vir U vriendskap en geduld terwyl U al die jare as mentor U tyd en kennis getrou met my gedeel het."

Laai gerus die boek af by die advertensie langsaan as u met 'n laptop lees, of heel onderaan as u 'n slimfoon gebruik.

Met vriendelike groet,
Jan Mastenbroek.

------------------------

3. Onderhandelings

Kortliks praat ons oor:
Die konsepkaart van die OASE voorgestelde gebied;
en verduidelik hoe volksgetalle in die gebied bereken word;
Ons besef dat daar Internasionale riglyne is wat gevolg moet word om Selfbeskikking te verkry, waarvan onderhandeling met die regering die belangrikste is.
Ons gesels oor groot organisasies en die redes waarom die Vryheidsfront Plus die beste verteenwoordiger is om die toekoms van Afrikaners vorentoe te neem.
Eers nadat 'n ooreenkoms bereik is word konsepwetgewing by die parlement ingedien, en ons kyk na eensydige selfbeskikking.
Ons gesels oor Sesessie en Onafhanklikheid en vergelyk vorme van onafhanklikheid van ander nasies teenoor die noodsaaklikheid van Afrikaner's volle onafhanklikheid.
Ons bespreek die vyf kreteria vir die totstandkoming van 'n nuwe staat en besef...
Volke in 'n eenheidstaat verkry gewoonlik geen eksterne maar wel interne selfbeskikking, behalwe in gevalle van uiterste onderdrukking.
Ons bespreek die bevindinge van verskeie vooraanstaande spesialiste wat diepgaande ondersoeke gedoen het.
Afrikaners het vroer laer getrek vir hul beskerming ... dalk ...
Ten laaste bevind ons dat solank Afrikaners nie die politieke wil toon en in beduidende getalle agter 'n politieke (of ander) organisasie staan...
Dit is absoluut noodsaaklik dat Afrikaners die proses uit die staanspoor op grondwetlike gronde en binne die raamwerk van Internasionale Reg aanpak - en dat sekere offers gevra en gegee sal moet word ...

-------------------------------------------------------------------------


Die konsepkaart:...
van die OASE voorgestelde grondgebied vir 'n tiende provinsie, beter nog - vir Afrikaner-eksterne-territoriale-selfbeskikking, is 'n voorbeeld van hoe grondgebied afgebaken kan word. Daar word gebruik gemaak van punte (vlaggies) ipv lyne. Die finalisering van grense word slegs by wyse van onderhandeling tussen die wettig verkose regering en onderhandelaars van die gebied gedoen. (Bls 112). Verfyning van grense is wel nodig om te verseker dat soveel moontlik Afrikaner-"pockets" ingesluit is, veral in dorps- of stadsgebiede, voor onderhandeling plaasvind. Solank die gebied stabiel geregeer word is ooreenkoms oor grenslyne nie noodsaaklik nie. Israel se grenslyne is nou nog steeds nie gefinaliseer na 50 jaar nie.


Berekening van volksgetalle:...
is gebaseer op StatistiekSA se 2011 sensusopname waarvolgens daar nagenoeg 3 miljoen mense woon in die OASE voorgestelde / afgebakende gebied, waarvan 1.5 miljoen Afrikaners is. Afrikaners is ongeveer 2/3 van wit mense in SA.
Alhoewel StatistiekSA taamlik onbetroubaar is, is daar volgens eie erkenning meer Afrikaners in SA as wat gewys word. (Bls 113).


Onderhandeling:-
Selfbeskikking is iets waaroor onderhandel moet word met die regering van die staat. Dit kan nie met agressie of by wyse van geweld afgedwing word – daar is duidelike riglyne in Internasionale Reg wat dit verbied en sal dus nie gesteun word nie. Om eensydig onafhanklikheid uit te roep kan alleen gedoen word nadat onderhandelings letterlik misluk en alle interne remedies uitgeput is. (Bls 123).

Onderhandeling tussen Afrikaners en die SA-regering oor selfbeskikking is essensieel. Tans geniet die VF+ die legitimiteit in die Internasionale Gemeenskap. UNPO (Volke buite die VN) beskou die VF+ as die amptelike verteenwoordiger van die Afrikaner minderheid. Dit is nie die geval met organisasies soos Afriforum, want die bestuur is nie demokraties verkies en omdat dit deel is van die Solidariteit beweging, wat 'n multikulturele organisasie is wat nie selfbeskikking vir Afrikaners bepleit nie. (Bls 124).

Die onderhandelingsproses met die RSA regering vir territoriale selfbeskikking raak nou 'n saak van dringendheid veral noudat Afrikaners se reg op grondbesit ernstig bedreig word. Sonder 'n beduidende mandaat aan 'n politieke party of bevrydingsbeweging (ongeveer 'n miljoen landswyd waarvan 500,000 uit die gebied) sal die regering waarskynlik nie bereid wees om met Afrikaners te onderhandel nie en sal die Internasionale Gemeenskap nie Afrikaners se vryheidstrewes ernstig opneem nie.


Sodra 'n politieke party...
soos die VF Plus'n beduidende mandaat van Afrikaners ontvang vir territoriale selfbeskikking vir ‘n gebied moet 'n span kundiges saamgestel word wat historici, antropoloë, ekonome, politieke wetenskaplikes, maar veral konstitusionele en internasionale regsgeleerdes insluit sodat 'n vryheidsdeputasie bestaande uit gesoute onderhandelaars afgevaardig kan word om names Afrikaners onderhandelinge te voer. Die deputasie behoort onmiddelik aan te dring op 'n moratorium op onteiening van grond asook alle diskriminerende wetgewing soos RA en SEB. (Bls 127).


Eers nadat...
daar 'n skikking tussen die partye bereik is, kan konsepwetgewing by die parlement ingedien word vir goedkeuring, soos vereis in Artikel 235 van die Grondwet. Die regering sal waarskynlik vooraf aandring op 'n gebiedsreferendum onder alle wettige permanent gevestigde RSA-burgers binne die afgebakende territorium, wat deur die Internasionale Gemeenskap gemonitor sal moet word. (Bls 128).

Indien onderhandelinge met die RSA regering op 'n dooiepunt uitloop, sal Afrikaners die saak na die Konstitusionele Hof moet neem. Dit sal waarskynlik die laaste proses wees wat betref die uitputting van interne remedies vir die bereiking van 'n skikkings-ooreenkoms met die regering. (Bls 128). En as onderhandelinge met die regering skipbreuk lei, of die parlement nie nasionale wetgewing vir Afrikaners se territoriale selfbeskikking aanvaar nie, moet die beplannings-proses so gevorder en waterdig wees dat eensydige selfbeskikking as 'n ernstige opsie oorweeg word – soos Kosovare in 2007 reggekry het toe hulle van Serwië afgeskei het.

Die Internasionale Gemeenskap:-
Dit is belangrik dat Afrikaners die huidige golf van nasionalisme in die Internasionale Gemeenskap ry deur soveel moontlik steun vir hul vryheidstrewe te werf. Sonder 'n konkrete Territoriale Selfbeskikkingsplan wat gegrond is op die RSA Grondwet en Internasionale Regsbeginsels sal sinvolle Internasionale steun nie maklik realiseer nie.Ongelukkig het Internasionale organisasies soos die VN en magsblokke soos die EU selde die tande om druk uit te oefen op soewereine state oor menseregteskendings en volke se vryheidstrewes nie. Die krag van individuele state is veel sterker, daarom is dit baie noodsaaklik dat ons vryheidstrewe onder aandag van internasionale politici en meningsvormers gebring word. (Bls 128,129).


Sesessie en Onafhanklikheid:
Die proses wat vir volle onafhanklikheid gevolg moet word vereis meer as net dit wat hier vervat is, of selfs in Cor Ehlers se boek sover dit Internasionale Reg en die riglyne van die Internasionale Gemeenskap of selfs die SA-Grondwet aangaan. Vir 'n beter begrip van volke se reg op eksterne selfbeskikking verwys Cor Ehlers na verskeie bronne op Bls 134.

Die Engelse, Skotte, Iere en Walliesers geniet vandag uitgebreide territoriale outonomie in die Verenigde Koninkryk, so ook die Franssprekende Walloniërs, Nederlands-sprekende Vlaminge en tot 'n mindere mate ook die Oos-Belge in België. Tog streef hierdie volke na volle onafhanklikheid, selfs al deel hulle dieselfde kultuur, waardes en norme. Die rede waarom sulke minderheidsvolke onafhanklikheid nastreef is sodat hulle totale beheer kan uitoefen oor alle regeringsfunksies wat hul mense raak.

Teenoor hierdie volke staar Afrikaners, as klein minderheidsvolk met hul Westerse kultuur en waardestelsel, 'n werklike bedreiging in die gesig tussen miljoene mense in SA wat Afrikakulture en waardestelsels aankleef. Gaan kyk 'n mens na die ernstige gevolge wat demokratisering vir Afrikaners meegebring het, sal hulle op die lange duur moeilik oorleef as 'n Westerse volk as hulle geen politieke beheer oor al hul eie regeringsfunksies kan uitoefen soos Grensbeheer en Immigrasiebeleid, Weermag en Nasionale Polisie, Makro-ekonomiese beleid, Buitelandse beleid en ooreenkomste met soewereine state. (Bls 134).


Vyf kreteria
Dit is totaal sinloos om Selfbeskikking na te streef wat nie uit die staanspoor gemik is op volle onafhanklikheid met Internasionale Erkenning nie. Daarby is dit belangrik om kennis te neem van die vyf kriteria vir die totstandkoming van 'n nuwe staat soos vasgelê in die Konvensie van Montevideo van 1933. (Bls 137).
1. 'n Permanente Bevolking:
Daar is vandag meer as 50 state met 'n bevolking minder as 1 miljoen, wat deur die VN beskou word as volwaardige lidstate. (Bls 137).
2. 'n Afgebakende Gebied:
Finale grense is nie 'n voorvereiste nie. Israel se grense is selfs nou na 50 jaar nog nie gefinaliseer nie. Die grondgebied moet egter 'n stabiele gemeenskap hê en relatief duidelik afgebaken wees.
3. 'n Regering:
Die nuwe staat moet 'n regering hê wat doeltreffende beheer uitoefen.
4. Die vermoë om met ander state ooreenkomste te kan sluit:
Hierdie kriterium is die gevolg van onafhanklikheid; solank as wat 'n entiteit ondergeskik is aan die gesag van 'n ander staat wat buitelandse verhoudings betref voldoen dit nie aan die kriterium nie.
5. Demokratiese geregtigheid:
Hierdie kriterium sluit faktore in soos algemene stemreg vir alle burgers, grondwetlike beskerming van minderhede, 'n handves van menseregte, ens. Rassediskriminasie en dade wat op apartheid neerkom verplig gewoonlik state om nie 'n nuwe staat se onafhanklikheid te erken nie. (Bls 137 en 138)
Somaliland, wat deur geen enkele staat ter wêreld erken word ondanks dit aan alle kriteria van die Konvensie van Montivideo voldoen het.


Volke in 'n eenheidstaat....
kry normaalweg nie die reg op eksterne selfbeskikking of die reg op sesessie, maar het wel reg op interne selfbeskikking – dit is die reg om eie politieke status te kies en om hul sosiale, kulturele en ekonomiese strewes uit te leef. (Bls 138).
Die Kanadese Hooggeregshof het egter die reg op afskeiding in uiterste gevalle van onderdrukking van 'n volk afgelei van 'n paragraaf tov selfbeskikking met die frase “territoriale integriteit” van 'n eenheidstaat wat slegs beskerm word indien die staat homself gedra “in compliance with the priciple of equal rights and self-determination of peoples and thus posessed of a government representing the whole people belonging to the territory without distinction as to race, creed or colour.”.
Hierin word die gevolgtrekking gemaak dat waar selfbeskikking wel ernstig geskend word, die staat geen beskerming geniet tov territoriale integriteit of politieke eenheid nie, wat 'n ondersteuning vir die gedagte gee van minstens 'n gekwalifiseerde reg van afskeiding.


Internasionale Regskenners oor afskeiding
David Raič het 'n diepgaande ondersoek gedoen tov voorbereidende werksaamhede en bevestig dat 'n gekwalifiseerde reg van afskeiding bestaan:-
* as daar 'n volk is wat in minderheid is tov die bevolking van die eenheidstaat, maar tog 'n meerderheid vorm in 'n identifiseerbare gebied binne die eenheidstaat;
* “that the people must have suffered grievously wrongs at the hands of the parent state it wishes to secede from, consisting of serious violation of the right of self-determination through for instance a pattern of discrimination, and serious and widespread violations of fundamental human rights;
* and there must be no further realistic and effective remedies for the peaceful settlement of the conflict”.


Brilmayer beklemtoon dat daar twee aspekte is wat in ag geneem moet word om te bepaal of 'n afskeidingsbeweging 'n geldige eis het:-
* is dit 'n volk met 'n duidelik herkenbare identiteit wat wil afskei;
* en is die eis vir sesessie objektief gesproke regverdigbaar op “historical fact, legal reasoning, moral argumentation and so forth.”.


Die Voortrekkers...
was bekend daarvoor dat hulle ten tye van gevaar “laer” getrek het. Die Bloedrivier Laer is 'n uitstekende voorbeeld wat ons almal ken.
Ons woon vandag verspreid dwarsoor Suid Afrika in 'n land wat sedert 1994 deur 'n swart meerderheid regeer word, en word sedertdien sosiaal gemarginaliseer as gevolg van blatante rassediskriminasie; ons word kultureel afgetakel; ekonomies ontmagtig; en op voorheen ongekende skaal bedrieg, aangerand, beroof, verkrag en vermoor. Duisende volksgenote het die land reeds verlaat om 'n veiliger heenkome te soek.
Het dit dalk nou nie weer tyd geword vir Afrikaners om by wyse van spreke weer laer te trek na 'n eie soewereine gebied ter will van oorlewing nie? (Bls 144).


Totdat Afrikaners...
nie in beduidende getalle die wil toon om oor hul eie mense te regeer sal hulle nooit vry wees van onderdrukking.
Hoe gouer Afrikaners in groot getalle vir die meerderheidsregering in Suid Afrika en die Internasionale Gemeenskap wys dat hulle verkies om self politieke beheer oor hul eie mense uit te oefen in 'n spesefieke grondgebied, hoe gouer kan die wiele aan die rol gesit word om territoriale selfbeskikking te verwesenlik. (Bls 145).

Afrikaners wat buite die voorgestelde OASE afgebakende gebied gevestig is hoef nie uitgesluit te voel nie, aangesien nagenoeg 'n half miljoen Afrikaners in gebiede woon wat direk aangrensend is tot die afgebakende gebied. Groot getalle Afrikaners sal sonder veel moeite in die gebied kan vestig en steeds heen en weer pendel as dit gaan oor werk of sake wat buite die gebied verrig moet word.

Afrikaners wat elders vasgevang sit sal met veiligheid hul kinders, bejaardes en siekes toevertrou aan skole, ouetehuise en hospitale binne die afgebakende territorium.

Weinig baat sal gevind word by dwarstrekkkery en ongefundeerde kritiek teen die VF+, want die VF+ besit die nodige kennis en insig ten opsigte van selfbeskikking vir volke en Internasionale Reg, asook ervaring binne die huidige parlement om die vryheidstrewes van Afrikaners te help verwesenlik. (Bls 145,146).


Dit is noodsaaklik...
dat Afrikaners die proses uit die staanspoor op grondwetlike gronde en binne die raamwerk van Internasionale Reg aanpak; so nie, is die kanse op sukses maar skraal. Hiervoor sal Afrikaners 'n eerste span na die onderhandelingsveld moet stoot, en nie 'n reserwespan soos destyds met die Kodesa-onderhandelings nie.
Sonder 'n puik span internasionale regsgeleerdes en ander kundiges loop Afrikaners die gevaar dat hulle die saak by die Konstitusionele Hof gaan verloor, of selfs voor die Internasionale Geregshof in den Haag, sou dit ooit daar beland. (Bls 146).

Sonder bepaalde opofferings sal Afrikaners nie maklik weer oor hul eie mense politieke beheer kan uitoefen nie. Sulke opofferings sal onder andere inhou dat grense by sommige dorpe en stede so getrek sal moet word dat bestaande infrastruktuur en werksgeleenthede buite die afgebakende gebied sal val, en dat Afrikaners weer van nuuts af infrastruktuur en werksgeleenthede sal moet skep binne die territorium waar hulle outonomie geniet omdat daar 'n getalsmeerderheid is. Vreedsame onderhandelings hou die sleutel tot kompromieë wat aangegaan sal moet word oor sake soos verdeling van munisipale belastings, ensovoorts.

Suid Afrika as eenheidstaat sal net kan baat vind as Afrikaners toegelaat word om hul basiese mensereg van selfbeskikking op 'n sinvole wyse uit te leef; dit sal die toenemende spanning tussen Afrikaners en die res van Suid Afrika se bevolking grootliks tot halt roep. (Bls 147).

Carpe diem, Afrikaners!


en ten slotte, vriende ...
ek belowe - dit was alles uittreksels uit die boek van Cor Ehlers, voorsitter van OASE, wat een van ons vooraanstaande spesialiste en kenner vir Afrikaner-selfbeskikking, maar ook my vriend, is.
My oorspronklike bedoeling was om 'n lys met belangrike punte vir myself uit te maak. Toe dit klaar was, en ek verskeie keer vir 'n kopie gevra is, het ek besef dat dit ook kan dien as 'n soort voorgereg of aptytwekker te wees om Cor se boek "'n Heimat vir Afrikaners: Die Tiende Provinsie" te lees, of selfs vir die wat die boek net so bietjie-bietjie, hier en daar, gelees het.
Ek kan die boek regtig aanbeveel, want Cor beskryf in diepte wat ek hier slegs oppervlakkig aangeraak het - oor dinge wat ons oor Afrikaner-selfbeskikking moet weet en verstaan. Terselfdertyd wil ek benadruk dat ek met "Afrikaners" altyd ons Engelstalige vriende ook bedoel het wat dieselfde waardesisteem en kultuur het as ek - u is my "kultuurgenote".
En met simpatie en empatie sien ek die verwarring en moontlike knorrigheid as sommige van ons die grense van die gebied twee of drie blokke van ons huis of plaas getrek sien. Dit gee ook 'n idee van die vele opofferings wat gemaak moet word. U is dan in dieselfde posisie as ons mense wat ver in Louis Trichardt of Kaapstad woon, hoewel u die voordeel het dat u steeds heen en weer kan pendel tussen u huis en u werk of andersom - met 'n grensdeurgang daartussen. U is ook nie die enigste nie - daar is na raming 500,000 van ons in dieselfde posisie.
Maar dit is goed om te weet dat u, asook diegene van ons wat ver weg is, hul kinders, seniors of selfs siek mense in skole, huise of hospitale in die gebied kan bring om behandel te word soos dit gedoen moet word ...

Met hartlike groet,
die Uwe,
Jan Mastenbroek - Oom Jan.

Cor Ehlers het 'n interessante Lesing gehou oor Selfbeskikking - of lees sy boek

--------------------------------------------------------------------------

AFRIKANER-SELFBESKIKING.
(advertensie)

Die haalbaarheid en volhoubaarheid van selfbeskikking vir 'n volk op onafhanklike grondgebied is op uiters kundige wyse nagevors en gepubliseer.

Hierdie nuwe boek oor Afrikaner-Selfbeskikking word werklik aanbeveel vir dié wat Selfbeskikking as 'n noodsaaklikheid sien maar nie eintlik op hoogte is van die SA-Grondwet of Internasionale Regsvereistes nie.

Afrikaner-heimat:- die Tiende Provinsie
deur Cor Ehlers.

---------------------------------------------

Hier volg die video waar OASE bekend gestel word, asook 'n reeks video-gesprekke van Cor Ehlers.

OASE:- Oanafhanklike Afrikaner-Selfbeskikkings-Ekspedisie.
Daar is hoop!
Bekendstelling van OASE.

Wie is Cor Ehlers? Cor stel homself voor, en verduidelik die noodsaaklikheid om die Grondwet te eerbiedig, en Internasionale Regsbeginsels te volg.
Volg die youtube kanaal.

Vraag 1 - waar Selfbeskikking as 'n basiese mensereg bespreek word. Wat is Selfbeskikking?

Vraag 2 - Kan enige iemand aanspraak maak op selfbeskikking? Aanspraak op Selfbeskikking

Vraag 3 - Wat is die stappe ter voorbereiding van selfbeskikking, en wat is die pilare waarop voorbereiding rus? Die pilare van voorbereiding.

Vraag 4 - Selfbeskikking het verskeie vorme. Wat is die verskil tussen interne en eksterne selfbeskikking? Die vorme van Selfbeskikking.

Vraag 5 - Wat van groepe in SA wat beweer dat hulle reeds 98% afgehandel het? Die gevolge van onkunde.

Vraag 6 - Wat is die rol van die VF Plus? Die rol van die VF Plus

Vraag 7 - Is internasionale regskenners belangrik en nodig? Internasionale regskenners.

---------------------------------------------

Cor noem hoe sy dogter Marieke haar "LLM in International Law with Innternational Relations" graad verwerf het met Selfbeskikking as tema onder die opskrif "Contemporary issues in the law of external self-determination and secession beyond decolonisation and disilution".
Die graad het sy met lof verkry aan die Universiteit van Kent.
Om die Internsionale Regsbeginsels rakende Afrikaner-selfbeskikking beter te verstaan is dit raadsaam om te sien hoe sy in haar dessertasie tot die positiewe slotsom gekom het dat Afrikaners wel deeglik Eksterne Selfbeskikking kan verkry.
Laai hier af.

---------------------------------------------